Tweedehandse handelaars word daaraan herinner om hul lisensies te hernu

Die polisie het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners en handelaars van tweedehandse goedere gedoen om hul lisensies te hernu.

Volgens brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, is die versoek deel van ’n strategie om die mark vir gesteelde goedere kleiner te maak.

Die lisensies van handelaars wat in Mei 2012 daarvoor aansoek gedoen het, verval in Mei vanjaar.

“Met die uitreiking van die jongste misdaadsyfers was rooftogte een van die probleme wat die meeste uitgestaan het. Kabeldiefstal is ook ’n groot bron van kommer wat ’n negatiewe impak op ons elektrisiteit- en telekommunikasie-infrastruktuur het,” het Naidoo gesê.

Ingevolge die Wet op Tweedehandse Goedere van 2009 moet elkeen wat tweedehandse goedere verkoop, geregistreer wees.

Let daarop dat:

  • ’n Aansoek om lisensies te hernu, mag nie later as 180 dae ná die vervaldatum gedoen word nie.
  • Dit kan ook nie 90 dae voor die lisensie verval, gedoen word nie.
  • ’n Aansoek moet by die polisiekantoor naaste aan die handelaar ingedien word.
  • ’n Aansoek moet op die regte vorms gedoen word en alle dokumente moet daarby ingedien word.
  • Lisensies sal slegs uitgereik word as die aansoeker voldoen aan die regulasies wat ingevolge die wet uitgevaardig is.
  • Hernuwingsaansoeke wat binne die voorgeskrewe tyd gedoen is, sal nie ’n handelaar se bestaande registrasie beïnvloed nie. Die bestaande registrasie bly van krag totdat ’n nuwe sertifikaat uitgereik is.
  • Handelaars wat nie hul lisensies binne die voorgeskrewe tydperk hernu nie se registrasie sal summier opgeskort word.

Die registrasieproses is gratis. Vir nadere inligting kliek hier.

Back to newsletter